Hieronder 'n kort beskrywing van die verskillende dienste wat ons lewer. Kliek op die naam om die inligting te sien.
Om u eie Internet teenwoordigheid te vestig is so maklik as om 'n domein naam te bekom.
In die lewe van vandag is dit waarskynlik ook die eerste stap in die rigting van elke nuwe onderneming. 'n Eie domein naam verseker ook die toekoms en integriteit van u handelsmerk.
Of u 'n .co.za, .com, of wat u ook al, as domein verkies, ons kan die naam namens u registreer.
U is welkom om ons te skakel sodat ons u behoeftes kan bespreek.
"Hosting" (verskoon, maar ons soek nog na 'n goeie Afrikaanse naam hiervoor) is een van daardie noodsaaklike dinge wat in die agtergrond van elke webblad gebeur, en nie altyd baie goed verstaan word nie.
In werklikheid 'n eenvoudige proses. Ons moet u webblad iewers op 'n rekenaar plaas waar die wêreld dit kan sien. Dit is ook 'n komplekse proses wat liefs in die hande van spesialiste gelaat word.
Die algemene gebruik is dat die koste van 'hosting' direk in lyn is met die volume data wat op die rekenaar gestoor word en die volume verkeer wat dit genereer.
Ons beskik nie oor rekenaars waarop 'hosting' gedoen word nie. Ons het wel toegang tot heelwat spasie op sodanige rekenaars wat deur spesialis maatskappye bedryf word. Met onderlinge ooreenkomste kan ons webtuistes op een van verskeie rekenaars plaas, welke een ookal geskik is vir jou webtuiste.
Indien die behoefte bestaan om 'n server te gebruik wat nie gedeel word met ander nie, kan ons ook daarmee help.
Daar is ook geen verpligting om webtuistes wat ons skep op enige van hierdie diensverskaffers se rekenaars te plaas nie. U is welkom om hierdie diens van ander verskaffers te bekom, in welke geval ons wel toegang tot daardie diens moet verkry.
Meeste van die 'hosting' pakette wat ons aanbied sluit epos fasiliteite in.
Die diens is baie aanpasbaar deurdat meer as een adres geskep kan word, en die limiet op die grootte van 'n epos en die spasie wat dit opneem onderhandelbaar is. Buitengewone versoeke mag teen 'n premie beskikbaar wees.
Die ideale epos adres sal wees jounaam@joudomein.co.za en dit het verskeie voordele bo die gebruik van ' generiese adres soos byvoorbeeld Gmail.
Ons is baie gerieflik met die eMClient sagteware vir gebruik op jou rekenaar vir eposse, in die plek van standaard produkte soos bv. "Outlook".
Nuwe webtuistes:
Kom ons wees maar eerlik. Die gesig van jou onderneming in nie meer die stem oor die telefoon, of die meisie by die ontvangs toonbank nie. Jou besigheid word deesdae be-oordeel deur hoe jou webblad lyk en of dit aan die kyker se verwagtinge voldoen.
Of 'n besigheid 'n webblad nodig het is lank reeds nie meer 'n agument nie. Die argument nou is of jou webblad vir jou werk.
Maar daar is meer. Voldoen dit aan die vereistes van Google en ander soekenjins? Kan die kyker dit op sy selfoon sien (en gebruik!!).
Ons doen moeite om seker te maak dat die webtuistes wat ons skep, aan jou behoeftes voldoen en optimaal deur die Internet gesien word.
Kontak ons gerus vir meer inligting.
Jou bestaande webblad:
Indien jou bestaande webblad nie aan jou verwagtinge voldoen nie, is daar waarskynlik heelwat wat daaraan gedoen kan word. Jou webtuiste hoef nie slegs 'n uitgawe te wees nie, dit kan ook 'n bate wees wat vir jou werk.
Sou jy belangstel, lewer ons graag 'n eerlike, onpartydige opinie van jou webtuiste, asook gratis advies, sonder enige verpligting, om die effektiwiteit van jou bestaande webblad te verbeter.
Ons verslag mag kommentaar en/of aanbevelings insluit ten opsigte van die volgende belangrike komponente van 'n suksesvolle webblad:
My opinie en kwotasie om jou bestaande webblad te verander is gratis. Kontak my gerus.
Om op die Internet handel te dryf is nie net algemeen nie, in die veranderende wêreld van vandag het dit byna 'n noodsaaklikheid geword.
Ons skep winkels spesifiek na u behoeftes. Daarna laai ons die eerste voorraad items as voorbeeld en staan u personeel by met die oplaai van al die ander voorraad. Nadat alles getoets is koppel ons die betaalwyse aan u bankrekening.
Of die winkel aan die publiek verkoop en of u slegs bestellings van verspreiders ontvang, of altwee, u funksie is basies beperk tot die versending van produkte.
Tensy spesifiek opgestel sal elke bestelling betaal wees teen die tyd dat u daarvan kennis kry.Praat met ons. Dit is baie makliker om so winkel te bedryf as wat u verwag het.
Ons is almal nou reeds bewus dat 'n webblad nie net kan bly soos dit is nie. Daar is gereeld die behoefte om inhoud te verander, op te dateer, foute reg te stel en meer.
As veranderinge aangebring moet word aan webtuistes wat deur ons ontwikkel is, is dit so eenvoudig as dat jy ons vra en dit word gedoen.
Normaal hef ons 'n nominale fooi per gebeurtenis. In sommige gevalle het webblaaie gereelde opdatering nodig en vir diesulkes bied ons 'n basiese bystands ooreenkoms aan.
Meer besonderhede van wat ons doen, of nie doen nie, in terme van die ooreenkoms, is hier te sien.
Google, asook al die ander soek enjins, (Google is die grootste en waar ons hulle naam hieronder noem sluit dit al die ander in) is by verre die besigste entiteit op die Internet. Hulle tel ook as die mees gereelde besoeker van enige webblad.
Hierdie baie besoeke sluit in ondersoeke asook beoordeling van die webblad. Dit het altyd die grondslag gevorm van waar 'n webblad geplaas word in antwoord op iemand wat soek na 'n diens of produk.
Hier het die SEO (Search Engine Optimisation) industrie gehelp om jou webblad hoër op die lys te kry. Ongelukkig het gierigheid ook hier sy inslag gevind, en Google aanvaar nou betaling van die hoogste bieder wat die inskrywing bo-aan die lys sal verseker.
Dit is ook moontlik om advertensies op u webblad te laat verskyn en betaling te ontvang indien iemand daarop sou kliek.
SEO
Ons doen niks spesiaal in hierdie spel nie. Wat ons wel doen is om al die basiese inligting en vereistes na te kom om die webblad op Google terme sigbaar te maak op die Internet. Standaard deel van die skryf van enige webblad by Marulaweb.
Betaal planne
Soos genoem ontvang Google graag betaling om soek antwoorde te beïnvloed. Ons kan u lei in die regte rigting om daarin betrokke te raak sou u dit wou doen. Ons sal nie self betrokke raak nie omdat die bestuur van so 'n plan voltydse werk kan word waarvoor ons nie ingerig is nie.
Ons kantoor is ook nie 'n groot voorstaander van advertensies op u webblad nie. Ons sien geen rede waarom u die opposisie se produk op u webblad wil adverteer nie.
U is welkom om ons te kontak vir meer inligting of advies. Advies uit ons kantoor is onpartydig en gratis.
Webtuistes het in 1991 die lig gesien en vandag is daar ongeveer 200 miljoen aktiewe webtuistes met ongeveer 1.2 biljoen geregistreerde domeins.
Aanvanklik, ook in 2002 toe ons betrokke geraak het, kon ons skryf net wat ons wou. Dinge het baie verander en moet ons deesdae ook al Google se giere en vereistes en natuurlik ook wetgewing in aanmerking neem. So byvoorbeeld het ons koekies ("Cookies" soos die Internet dit ken) na hartelus gebruik om die werking van die webblad makliker te maak.
Europese wetgewing vereis nou dat Europese webtuistes duidelik verklaar dat koekies gebruik word, en selfs dat toestemming gegee word om sekere koekies te gebruik. U het hierdie neiging op die Internet waarskynlik reeds opgemerk.
Terme en Voorwaardes
Dit is belangrik om duidelik onder kykers se aandag te bring wat die terme is vir die gebruik van u webblad. Kopiereg is byvoorbeeld iets wat belangrik mag wees met inligting wat op u webblad geplaas word. Of u nou 'n lywige regsdokument op die webblad wil plaas, of iets korter in 'gewone' taal (soos ons dit normaalweg doen) is nie belangrik nie. Dit is egter noodsaaklik om sulke inligting op die webblad in te sluit.
Addisionele voorwaardes, byvoorbeeld soos hoe u produk gebruik moet word, se insluiting op die webblad spreek vanself.
Privaatheid en Koekies
Plaaslike wetgewing, soos die POPI wet, vereis dat die beskerming van kliënte se privaatheid verseker moet word. Dit sal ingesluit wees by die Privaatheid verklaring wat noodsaaklik is om op die webblad te plaas.
So ook is daar 'n verklaring van welke soort koekies gebruik word. Sou u kliënte inligting op die webblad wil versamel om later te gebruik om advertensies aan hulle te stuur, is dit noodsaaklik dat dit hier gemeld word.
Met die skryf van 'n webblad hier by Marulaweb, word al die bogenoemde ingesluit as deel van ons diens.
Dit is baie onwaarskynlik dat enigiemand die sosiale media sal gebruik om iets by jou te koop.
Tog gebruik feitlik almal die sosiale media om inligting te bekom.
Om deel te wees van hierdie poel van inligting wat deur sosiale media versprei word, is dit baie belangrik om 'n aktiewe deelnemer te wees. Teenwoordigheid op sosiale media sonder deelname het geen waarde nie.
Ons het nie 'n intieme kennis van die daaglikse gebeure in u werksomgewing nie en kan gevolglik nie as aktiewe deelnemer namens u optree nie. Ons kan wel behulpsam wees met die opstel van u teenwoordigheid op sosiale media.
Daar is verskeie verskillende sosiale media platforms, elkeen met sy eie geur, styl en gebruikers. Jou tipe besigheid en/of jou teikenmark sal bepaal watter platform(s) jy moet oorweeg.
Kontak ons gerus vir meer inligting. Ons advies oor die sosiale media is sonder verpligting.
GEEN Kunsmatige Intelligensie (AI) is gebruik met die maak van hierdie webblad nie. Alles in hierdie webblad is eg en outentiek marulaweb.co.za